
Vraag 1: Hoe lees en verstaan ek die Bybel?
2 Timoteus 3:14 - Bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo
Paulus sê: “bly by wat jy geleer het.” Dit gebeur nie toevallig nie. Hierdie handleiding help jou om elke dag in die Woord te bly.
Riglyne vir elke dag
-
Maak tyd. Begin met 10 tot 15 minute, dieselfde tyd en plek elke dag.
-
Begin met gebed. Vra die Heilige Gees om die Woord vir jou lewend te maak.
-
Kies ’n boek. Wil jy Jesus leer ken, begin by Johannes? Wil jy geestelik groei, lees ’n brief van Paulus of Johannes. Wil jy wysheid hê, lees Spreuke of Psalms.
-
YouVersion het goeie leesplanne, vir Bybelboeke en baie ander onderwerpe.
-
Lees eers die geheel. ’n Kort brief kan jy in een sitting deur lees. Deel langer boeke op en lees ‘n paar hoofstukke ‘n dag. Gaan dan terug en lees een perikoop op ’n slag.
-
Moenie jaag nie. Een perikoop kan dalk ’n week neem. Lees eerder minder met aandag, as om deur ‘n perikoop of die Bybel te jaag. Elke bietjie tel.
-
Let op konteks en genre. Wie skryf, aan wie, wanneer en waarom? ’n Brief, ’n Psalm, wette/reëls of geskiedenis, lees jy nie dieselfde nie.
-
Vra vrae aan die teks. Is daar ’n belofte, vermaning, waarskuwing of opdrag? Skryf dit neer. Wat leer dit my van God, en hoe sal dit my verander?
-
Gebruik hulp. Vir wat jy nie verstaan nie, gebruik ’n Studiebybel, ’n kommentaar of Precept Austin. As jy AI gebruik, vra dit om konteks en woorde te verduidelik, vergelyk meer as een bron, en toets alles teen die Bybel self.
-
Bly aangaan. As jy iets nie verstaan nie, gaan na die volgende deel. Mis jy ’n dag, begin net weer. Gister se lees voed jou nie vandag nie. Begin elke dag nuut en vars.
Voorbeeld: Vyf dae met 2 Timoteus 3:14-17
Probeer om elke dag dieselfde ritme te volg: Bid, lees, dink na, pas toe.
Dag 1: Konteks. Lees 3:14-17 saam met 3:1-13. Lees dan die hele 2 Timoteus in een sitting deur (ongeveer 15 minute).
Dag 2: Wat glo ek? Lees 2 Timoteus 3:14-15. Skryf een of twee sinne oor wat jy al alles geleer het of alreeds weet van die Bybel. Skryf neer wat jy werklik van God, Jesus, die Heilige Gees en die Bybel glo.
Dag 3: God se stem. Lees 2 Timoteus 3:16 en Hebreërs 4:12. Lees stadig en stop waar ’n frase jou raak. Maak notas.
Dag 4: Leer, verkeerdhede regstel, nuwe lewenswyse aankweek. Lees 2 Timoteus 3:16-17, Psalm 1:1-3 en Psalm 119:105. Is daar ’n waarheid om te glo, ’n sonde om te bely, ’n vermaning om te ontvang, ’n opdrag om te gehoorsaam, is daar dalk ‘n belofte?
Dag 5: Toegerus. Lees 2 Timoteus 3:17 en Jakobus 1:22-25. Gebruik SOAP beginsel, kies een stap van gehoorsaamheid en deel een ontdekking met iemand.
Meer tyd? Neem ’n sesde dag om vers 16 te memoriseer en dit terug na God toe te bid, en ’n sewende om met iemand te deel.
Studiemetodes
Jy hoef nie almal te gebruik nie. Kies een en bly daarby vir ‘n rukkie.
-
SOAP (Scripture, Observe, Apply, Prayer) is die eenvoudigste: skryf die vers neer wat jou getref het, wat jy opmerk, hoe jy dit toepas, en sluit af met ’n kort gebed.
-
OIA (Observe, Interpret, Apply) is meer deeglik: eers vra jy wat staan daar, dan wat dit vir die eerste lesers beteken het, en eers dan wat dit vir my beteken.
-
Discovery Bible Study werk met gesprek en gehoorsaamheid: lees die gedeelte, vertel dit in jou eie woorde oor. Vra die volgende vier vrae.
-
Wat vertel dit my aangaande God?
-
Wat vertel dit of leer ek oor myself of mense?
-
As hierdie God se Woord vir my lewe is, hoe sal ek dit gehoorsaam wees?
-
Wie gaan ek vertel van wat ek gelees of beleef het.
-
SOAP pas by beginners wat alleen lees, OIA by dieper studie, en Discovery by ’n gesin of groep.
Hulpbronne
-
Studiebybel: gee agtergrond, kaarte, kruisverwysings en verklaring van moeilike woorde. Lees ook ’n tweede vertaling langs jou eie.
-
Precept Austin: kommentaar op die hele Bybel. Baie deeglik en teologies betroubaar. (preceptaustin.org)
-
YouVersion: Baie Bybelvertalings en ook baie leesplanne. (bible.com)
-
AI hulpmiddels: soos FaithGpt, claude.ai, om konteks, woorde en moeilike gedeeltes te verduidelik. Dit vervang nie die Bybel of ’n kommentaar nie. Vergelyk altyd met meer as een bron.
-
Discovery Bible Study: Baie nuttige en handige Bybel lees program. Is op ‘n App of Webblad beskikbaar.
-
FaithGPT: Is 'n evangeliese hulpmiddel om agtergrond en kennis te verbreed, betroubaar.
-
ChatLumin: Meer vir dieper teologiese studie, en is deeglik en betroubaar. Dis ‘n goeie naslaan bron.
-
BibleAI (bible.ai): Baie eenvoudig en het betroubare inligting.
-
Claude: Help met om konteks, genre en Griekse of Hebreeuse woorde te verduidelik, vertalings te vergelyk, en studie vrae of 'n lees plan op te stel.
-
e-Sword: 'n Gratis Bybelstudie program wat parallelle vertalings, kommentare en woordeboeke in verskillende vensters langs mekaar wys, en waar jy ekstra modules eenmalig koop; dit help jou om een vers vanuit baie hoeke te bestudeer.
-
Enduring Word: David Guzik se gratis vers vir vers kommentaar oor die hele Bybel (meer as 10 000 bladsye, ook as toepassing, oudio en video); dit is 'n goeie plek om te begin as jy wil weet wat 'n gedeelte beteken, in eenvoudige taal.
-
Scripture Direct: 'n Gratis toepassing vir met 'n Grieks-Engelse interlineêre Nuwe Testament waar jy 'n Griekse woord aanraak en sy betekenis en woordeboek inligting sien.
-
Logos: 'n Groot digitale Bybel-biblioteek met kommentare, woordeboeke en tale gereedskap om in jou eie boeke te soek en verbande te trek, met nuwer AI soek hulp; dis kragtig vir diep studie, maar is duur.